Afrikaanse brief

Deze mail was de aankondiging van een winkelbezoek:

Beste Eric Schuijt

Ek vertrou dat die Afrikaans goed genoeg verstaanbaar sal wees.
Indien nie, is daar altyd Engels. 🙂

Ek is na jou verwys deur twee persone: Leon van die nl.fiets
usenet poslys en Fokko Bos van Geografische Boekhandel Pied à
Terre, en dit was bepaald ’n aangename verrassing om op die
webwerf vakantiefietser.nl af te kom!

My vrou en ek is op pad Nederland toe vir ’n (veels te) kort
fietstoer van twee weke. Ons arriveer 11 Mei en sal die aand in
Amsterdam oorslaap. Hierdie sal ons eerste toer wees waar ons
alle bagasie self vervoer. Die plan is om te kamp, min vooruit
te beplan en elke dag te vat soos hy kom. As die tyd opraak,
klim ons op ’n trein en kom terug A’dam toe. Sodra ’n mens
beplan om te kamp en dinge soos die tent, slaapsakke en stofie
bykom, raak die pakkery op die fiets natuurlik meer interessant
— selfs al pak mens hoe lig en ekonomies. Ek het dus daarna
begin kyk om, benewens die agterste draer, ook ’n ‘low rider’
draer en fietstasse op my fiets se voorwiel te monteer. Die idee
is nie om swaarder te laai en meer goed saam te neem nie, maar om
die gewig beter te versprei en darem plek te laat vir ekstras
(soos ’n brood en ’n bottel wyn vir die laaste skof kampterrein
toe).

My probleem: geen verskaffer in Kaapstad kan my met so-iets help
nie! Die plan is nou om Vrydagmiddag 11 Mei (of Saterdagoggend
as dit moet) so-iets in Amsterdam aan te skaf. Ek is dus op soek
na iemand wat fokus op toerbybehore en goeie voorraad aanhou wat
my kan help met advies en die verkoop en moontlike hulp met die
installasie van ’n draer/rak vir die voorwiel en geskikte
fietsttasse. Sou dit in orde wees as ek hiermee in gedagte by
Westerstraat opdaag eerskomende Vrydagmiddag?

Vriendelike groete

Christo Steyn

Deel deze pagina met anderen

6 reacties op “Afrikaanse brief”

  1. marco

    fabelachtig mooi die brief

  2. Lesley

    Ik hoopt jul hat n wonderlikke vakansie in de Nederlands. Dink oft an jul toer!

    Danke wel – ik hat de brief toch goed begrepen.

  3. Christo

    Hoi!

    Ná ’n wonderlike fietstoer deur Nederland is ons weer terug in Kaapstad. Ons het baie goeie diens (en lekker koffie) van De Vakantiefietser se mense gehad en is (onder andere) daar weg met nuwe draers en Ortlieb fietstasse.

    Ons tog het op Schiphol reeds begin. Ná ’n dag in Amsterdam en ons besoek aan De Vakantiefietser het ons vertrek en oor ’n tydperk van 5 dae via Keukenhof, Scheveningen, Gouda, Rotterdam en die Noordzeeroete deur Zeeland na Middelburg gefiets. Die dyke en sluise van die Deltaprojek was indrukwekkend en die landskap besonders, veral per fiets.

    Een rusdag later het ons per trein na Maastricht gereis en toe oor die daaropvolgende 3 dae al met die Maas langs gefiets via Roermond, Venlo, Nijmegen en Arnhem na die Hoge Veluwe Nasionale Park. Nog 2 dae later was ons weer via Utrecht terug in Amsterdam. Totale afstand saam met die twee Schipholritte: so 760 km.

    Die kampterreine was deurgaans goed en die mense van Nederland vriendelik en hulpvaardig. Die LF fietsroetes was heerlik, en ons het ook van ’n hele paar krummelroetes van http://www.gpstracks.nl gebruik gemaak.

    Ons was natuurlik oorweldig deur die land se infrastruktuur vir fietse en die bedagsaamheid van motoriste! Die weer was meesal so tussen 12 en 18 grade maksimum, maar nadat die eerste week goed nat en winderig was, het die tweede week gesorg vir heerlike bewolkte dae en op die ou end drie warm sonskyndae in Amsterdam.

    Lekker geëet ook: donkerbruin rogbrood, boerenkaas, ‘pindakaas met note'(grondboontjiebotter in Afrikaans), Franse wyn, Belgiese sjokolade, roukos (slaai) en koffie was gereelde items wat uit die fietstasse verskyn het as die wiele tot stilstand kom.

    Eric – dankie aan jou en jou kollegas. En aan al die ander gawe mense wat ons raakgeloop het: Hartlik bedankt, en dag!

    Christo en Elsa Steyn